Jet lagged en underdressed staan ons langs mekaar
op ons eerste dag in Londen. Jou Virgin flight sokkies
steek prominent kop uit tussen jou plakkies. Die ysige wind
breek die lug om ons in wasem op. Ons glimlag wydmond
vir die kamera. Ek hoor vandag nog die brullende oggend verkeer.
Net ek en jy in ons dun windbreakers, en ons oe
lyk seer. Net ek en jy en die brullende oggend verkeer.
Turnpike lane. Ek strompel dronk by die Salisbury pub uit,
jou arm ferm om my lyf, en huil op die sypad oor verlore
jare en verbrande brue en jy sus my met 'n fluister, jy sus
met tot 'n fluister...
Net ek en jy in ons dun windbreakers, en ons oe
lyk seer. Net ek en jy en die brullende oggend verkeer.
Die Isle of Man. Cheese on chips. Ek dronk op my eerste
liefde. Julie maand. Ek swem besope in die ysige see.
En ons stap laatnag alleen op die strand en sing Cat Stevens
songs vir die maan. En bedags dwaal ek in my kop rond,
en snags hoor ek hoe die onstuimige see stamp, en breek,
en saggies sug. En ek sien hoe jy snags weer droom
soos 'n kind, en hoe jy saggies sug saam met die duister see.
Net ek en jy in ons dun windbreakers, en ons oe
lyk seer. Net ek en jy en die brullende oggend verkeer.
Mag die see jou altyd sus, en die branders oor jou breek
asof jy heilig is. En mag die maan snags vir jou blom soos
'n Cat Stevens song, en mag jy ewig droom soos 'n kind.