Saturday, August 21

die blues I

rooi wyn
die kersvlam flikker onrustig
howlin' wolf
die blues die blues die blues
val in skerwe op die vloer
en die nag lyk swart deur die venster
die kersvlam flikker
onrustig
en die nag lyk swart
en howlin' wolf voel blue
voel blue voel blue voel so
blue soos ek

die blues II

vannag is daar die kom-en-gaan van 'n oseaan in my bors
brullende branders breek harteloos oor 'n verlate strand
en die sekelmaan 'n geel glasskerf sweef geluidloos
terwyl die branders plots terwyl die branders plots en
ek speel skaak teen die dood soos in Bergman se film

die kamer

ma daar broei iets donkers in my bors die bekende hunkering na jou
maar ook na biblioteke in klein dorpies, gedempte stemme tussen rakke
oorlaai met belofte, donker hoekies en die swart woorde wat soos valke
sweef oor tafels wat stowwerig onder die silwer son uitgestrek le. ek
drentel tussen die Name, bladsye knars soos ryp vrugte in die Stilte.
ek is sestien maar my skaam oe blink oud in die donker. ek soek na
myself en woorde tussen mense, maar die stemme uit my ink vloei
soos riviere oor spoelklippe, en ek voel my Hart. my hart het gebeef,
geruk soos 'n hondstol brak, gekwyl onder die brommende geel ligte,
my mond het geskuim, en ek het geskryf. vir jou Ma.
ma jou baarmoeder is 'n kamer, gespierd soos 'n ou dier. en ek sit daar
binne. my tikmasjien ratel en skree, en snak soms na asem.
Ma, die kersvlam dans ingedagte. en ek skryf vir jou Ma, net vir jou

Saturday, July 24

As ek eendag oud is- my bloed gestol tot 'n troebel poel
en my pols wat stadig en ritmies klop -
sal ek aan jou hande dink.

Die slanke vingers van 'n pianis.

Egon Schiele hande wat soos sku voels onder die kollig van 'n kroeg
gefladder het.

Die tipe hande wat nog saans skadu-skimme teen my kamer muur
laat skuim en plots, asof die see al om my bed en tussen die mure klop.

Hande wat woorde laat blom soos 'n orgasmiese see. En wat woorde kan
breek soos die bloedige skerwe aan die einde van hierdie versreel.

As ek eendag oud is, sal ek weer aan jou hande dink.

midnag gedagte

ek spring vanaand uit myself en weer terug soos die flikkerende
kursur wat wag en wieg wagtend wieg en uiteindelik breek
ons stap in greenwich park die reen sak uit prik my warm vel ek
is weer onder 'n boom wat buigend wieg saam met die sidderende
wind en die druppels spat oor die silwer dam ek sien die rook opdam
uit die hoek van my oog jou wange bol vir 'n sekonde ons woorde
skarrel rond binnesmonds vir 'n oomblik
was alles net stil

Saturday, June 12

Vir Alet

Jet lagged en underdressed staan ons langs mekaar
op ons eerste dag in Londen. Jou Virgin flight sokkies
steek prominent kop uit tussen jou plakkies. Die ysige wind
breek die lug om ons in wasem op. Ons glimlag wydmond
vir die kamera. Ek hoor vandag nog die brullende oggend verkeer.

Net ek en jy in ons dun windbreakers, en ons oe
lyk seer. Net ek en jy en die brullende oggend verkeer.

Turnpike lane. Ek strompel dronk by die Salisbury pub uit,
jou arm ferm om my lyf, en huil op die sypad oor verlore
jare en verbrande brue en jy sus my met 'n fluister, jy sus
met tot 'n fluister...

Net ek en jy in ons dun windbreakers, en ons oe
lyk seer. Net ek en jy en die brullende oggend verkeer.

Die Isle of Man. Cheese on chips. Ek dronk op my eerste
liefde. Julie maand. Ek swem besope in die ysige see.
En ons stap laatnag alleen op die strand en sing Cat Stevens
songs vir die maan. En bedags dwaal ek in my kop rond,
en snags hoor ek hoe die onstuimige see stamp, en breek,
en saggies sug. En ek sien hoe jy snags weer droom
soos 'n kind, en hoe jy saggies sug saam met die duister see.

Net ek en jy in ons dun windbreakers, en ons oe
lyk seer. Net ek en jy en die brullende oggend verkeer.

Mag die see jou altyd sus, en die branders oor jou breek
asof jy heilig is. En mag die maan snags vir jou blom soos
'n Cat Stevens song, en mag jy ewig droom soos 'n kind.

Sunday, March 14

Eerste ontmoeting

Sigaret gemaklik in die crotch van jou mond gestop.
Jy praat heerlik hees soos ‘n roker.
En jou oe klets lui van Springsteen,
die woorde krom traag oor jou gladde tong
en ek dink aan die rooi wyn geskommel in jou warm mond,
aan jou duime, pragtig gekrom.
Die woorde vloei in rustige strome soos jy praat van visvang,
van doodstil yskoue riviere, van lang lui dae en van die wag
vir die byt. Die blou rook omwalm jou en ons praat oor die dood
en ek weet ek is morbied jy stem saam en jy se jy gaan
waarskynlik nie sewentig haal nie, en ek kyk aandagtig na jou
en voel my hart wieg

Thursday, February 11

die pianis

Ons murmur geheime tussen stroewe gesigte op oliedoeke.
Jou skraal hande dans skaam onder die wit lig.

In Ronnie Scott's kerm Pee Wee Ellis se soepel saksofoon
soos 'n hees hoer. In St Martin in the fields kreun Mozart
se dodemars soos donder bo die ou kerkbanke.

Later lyn Londen se black cabs lui op vir die raserige midnag massas.

Maar jou pianis hande soek stil myne soek myne soek net myne.

Sunday, January 31

Die troos

Een oggend (Londen bloei deur die venster tussen glas en beton)
lees ek weer vir Totius raak "Tog vaar hy immer voort, hy vaar nou

blind". Nou staan ek weer op sy verinneweerde stoep en luister na die
wind wat loei soos 'n digter, die wind wat sanik soos sy dooie kind.
Die flitsende Afrika son streel my vel met sagte woorde, die droe gras
brom in ritselende kore. My gedagtes dwaal na ewig verlore jare, en
na Tyd, die verbrande brug steeds smeulend in my drome.
En na sy woorde; "Op die kompas alleen val bundels lig!"

Sunday, January 10

Onsamehangende midnag gedagtes

Tongknopende terminologie, swart drie uur koffies, die sukkelende
swenk-en-val van die horlosie been. Tussen Mense. Op donnerende
ondergrondse treine. En in kliniese winkelsenstrums, wankelend
onder die Wit Lig. (Die koue teels vibreer rit-mies, en in die vuil
cosmetics spieel deins-deins my bleek gesig tussen weg-en-terug).
Ek, en When Harry Met Sally. Ek in Mahler se laaste doodsnikke.
Ek en jy in skerwe in die lou badwater. Ek in die grondad, my hande
wat bewend rook teen die lang pad. Ek soekend in die corner videoshop,
teen die Impak. Ek in die Lang Nag. En tussen die versreels. Net ek.
En my mond is 'n diep, donker skag. En my tong val soos die reen, so sag

Monday, December 28

As ek 'n paar woorde gegun word...

As ek 'n paar woorde gegun word vannag,
sal daardie woorde kring en sirkel asof om 'n enkele gedagte,
en swewe en swerwe soos in die Meester Van Wyk Louw se
gedig. En uitendelik sterwe in my sigaretkool se flikkerende-
lig

Saturday, November 28

In my droom sit ek weer agter op die motorfiets in Indie,
kamera wankelrig in die hand,
die pad kronkel soos ‘n nat tong onder ons deurgeslyte bande,
en die gloeiende Oog van die kamera brand ‘n gat deur
die immergroen bome, en die wit oggendlig wat flikker-en-spat
aan weerskante, en ons hare wapper verlore – windverstrooide
woorde- en ons wit dansende hande gryp na vlietende skadu’s
in die glibberige pad.

En die ewige wind wat in my ore druis, die wind soos ‘n simfonie…
Daardie dag was ‘n kanvas, ons die gloeiende kwasstreep in vaart

Sunday, November 15

Pa, ek rook weer vanaand 'n sigaret op jou. Die wind gryp die rook
in 'n dronk dans en warrel saam met 'n kaleidoskoop verlepte
herfsblare, en in die kaal stram arms van die reuse akkerboom
sien ek jou weer dans op Neil Diamond, jou voete wat lomp vastrap,
die vibrasie van jou vals stem, en die vuur se tong, die vlam se mal
gebare. En op die rug van die wind die woorde "I am I said, to
no one there. And no one heard at all"...

Wednesday, November 11

vir my groen-oog broer

my groen-oog broer, ek dink vannag aan hoe jou denkerkop
ook tilt, kyk na ou foto's en sien my erns ook plek-plek spore
loop om jou mond. my springbok groot kakebeen gespierde kuit
broer. ons kinder gesprekke vlek my brein vannag soos verspulde
wyn...

Monday, October 19

Onthou julle die Zepher met sy reuse sitplekke sonder safety belts.

Die Zepher sonder Remme.

En kasterolie bottels wat soos juwele in die geel son geglinster het,

die geroeste graaf wat spit en delf aan sy eie rou wond in die droe grond-

Rysmierbult, en ons heeldag in die bakkende son.

En die ou plaashuis wat so swaar gesug het tussen sy eie skaniere,

die vier winde het geloei soos geeste, die vensters in ‘n duisend stukkende

skerwe soos sproeiers teen die wit lig. Onthou julle…

die berge by Venterskroon wat soos‘n ge-eelte hand uitgestrek was,

Ons in die modder en die sinkbad en die bome en in die riviere en tussen

die grafte en in die huise en op die highway met die lamppale wat verby flits-

flits-

flits-

Onthou julle.

Sunday, September 27

Die tol

Soveel gedigte oor die gebroke hart spin soos 'n rooi tol om
sy eie as. 'n Tol wat volspoed swik en wik en weeg, maar
steeds mank agter sy eie gebroke as aan draf...

So, ook ek jaag die maan vanaand been-af met my slim digtershond,
en kom poot-uit op jou wortel af- 'n rooi gapende wond wat glinster

in die donker,
sonder as of mond.

Sunday, September 20

Epiloog

Rachmanioff beur soos 'n trop verskrikte bokke teen
die badkamermuur uit die klein draadlose radio'tjie sidder
bewend op die bad se rant. En skielik vanuit die sitkamer,
asof uit die niet, bulder Beethoven sy derde simfonie
soos 'n oorlogslied. En ek en jy sit weer vir die eerste keer
penorent in die Royal Festival Hall op ons £6 seats.
Die kondukteur se akrobatiese arms windmeul verwoed,
sy dun mond soos donder, sy oe skrefies swart roet. En
agter hom die afwagtende gehoor, ore tot breekpunt gespits-

Thursday, August 27

die Stilte

die mure het steeds ore wat luister, en skadu's sluip
voetloos oor wit hande.

ek spits my ore, gretige antenna’s, en hou my asem
afwagtend op. ek klem my wit hande, en hou die dooie
horlosie met groot oe dop...
en ek wag-

vir die bekende gesels van sleutels wat in 'n rooi voordeur
kners. die sagte sug van 'n boek bladsy onder geel lamplig.
vir die brom van Beethoven op 'n raserige klokradio. die intieme
nanag murmur van twee stemme in gesprek.

'n spinnende kat se ligvoet midnag spel op my kombers....

ek spits my ore, en ek luister na my hart wat breek in 'n vers.

Wednesday, July 29

die droom

In my droom beur antieke skepe ge-anker na 'n wilde see
soos rebelse let-ter-grepe oor die drumpel van 'n stotterende tong

Wednesday, July 8

die reen het gister met benerige vingers teen my kamerruit geval
en nat spore soos slak sleepsels het asof wikenwegend wiken
wegend lang trane teen die glas af laat

val

soos 'n sliert donker hare teen jou voorkop, of die teer
sukkelende spoor van 'n af-dop slak oor my hart

Sunday, June 7

Tottenham court road. ek en my gloeiende sigaret-oog/ek
en my voete wat kners op die sypad en breek
soos knelrooi granate/ek en die kaleidoskoop skare
kaats gelate in vertoonkaste/ ek en die borrelende
wyn wat gesellig klets in my are/ ek en die laat aand wind
se nat vingers in my hare/ek en die ontsnapte rommel
langs vuil asdromme en die woedende motors se geel
blitsende oe en Warren street station se rooi tonnel
mond wat driftig knip-oog voor/ Net ek,
en ...

Tuesday, April 28

Ma, ek dink vanaand aan hoe die Mooirivier ruik wanneer
'n somers reentjie uitgesak het, en aan spaghetti & maalvleis
op 'n lee maag. Aan basterhonde in die stowwerige yard,
en 'n rooi proesende Anglia wat straat op beur. Aan 'n huis
waar elke kamer sy eie kleur gedoop is, en selfs die kaggel
een week swart roggel en die volgende week pers spoeg.
Waar die toiletseat waggel en skree soos 'n ou, vet dame en
die deure gil in hulle skaniere, die lendelam meubels wankel
op onvaste bene, die badwater roggel en louwarm skater.
En aan jou bulderende lag Ma, in daardie lang donker gange

Saturday, April 4

vir pa (soos die ander)

jou verjaardag is, soos jou doodsdag, iets van die verlede
en tog staan albei datums stemmig in my geheue gekerf;
die een vrugloos jaar-na-jaar,
die ander dra loodswaar aan een, twee, drie, vier...jare

die ewige mank balans van 'n gebroke weegskaal...

die vonds

Vandag het ek oophand- lomp deur Cloete & Cilliers & Rousseau
gedelf -die vlymskerp klinkers kerf steeds rou teen my binne-oor,
en 'n duisend immergroen vrae roep nou soos een stem deur my
rooi-stom are.

Strofe-na-struikelende strofe lisp kaalhak oor my stotterende
tong, en elke dobberende woordlandskap deins groot-oog
en dors teen 'n kloppende brein.

Sodat ek wonder oor die komende jare, oor bottende herfsbome
en bros geel blare! En oor my eie skurwe hak knersend in skadu

Sunday, March 15

Dink aan my as die rooi tong van die karoo- son oor jou bree
skouers lek, en jou gebarste voete oor die sandkombers
van die woestynvloer kners

en wanneer jy jou reuse rugsak poot-uit op die grond laat val en
die tent se koel mure vaardig vaspen,

die son sy kop moeg laat sak op 'n kaal horison...

dink aan my;

as die maan bleek sy sterk ken uitsteek, en die sterre flikker
soos die spatsels weerlig op die speke van jou gegrendelde fiets
hier...

en die vuur se tong oranje stotter en vlam vat, en gesellig
sarsies geel-groen-en-pers vlamme soos woorde uit skiet-

en wanneer die nag uiteindelik stil nader draf- ‘n spinnende kat-
en op jou skoot kom le,

dink aan my…

Friday, February 20

my skat onthou jy die Aylesbury Estate sewe beton verdiepings
met toe-knyp vensters soos bang oe en die hysbak het geskree
na asem soos ons tot op die sesde vloer met jou lendelam boekrak
en die plek het gestink na oranje pis en die lui reuk van dagga
het saam met die kletsende Jamaicans gesweef tot op ons balkon
waar kerse soos katoe gebrand het en miles davis en ella fitzgerald
en bach en die inkspots het die mure laat beef alles geskud soos

een orga(ni)sme onthou jy my skat

Thursday, February 19

'n hangkop-klok in elke kamer waarsku tong in die kies.
jou gekneusde hande rus rond op die kombuistafel.
die rug se spleen, elke kompakte been haarstyf gespan-
nog 'n halfhuis-hart skoppend in 'n maatemmer

Angsaanval

Definisie van die Af-kop haan: "onder andere woonagtig in die slagoffer se keel (as 'n knop) die hand (se bewe) die perdehart
(wat SKOP-SKOP sonder stop) die handpalms (natgesweet) lig-sku oe (flik-ker-end in die oogkas)
die gebalde vuis (gepers tot klip) die swik-van-die-been die stamel-van-die-tong die alewige
stram
volstruis nek 'n droe tong oor gebarste lippe gelek..."

Die slagoffer-self: "besit 'n skarrel in haar stap vermy oog-
kontak (asook SKARES dag en nag)
en word stuk-stuk deur die Haan skoon gepik".

Wednesday, January 21




Wednesday, December 31

Vir jou sal ek nog baie skryf soos: as die maan
soos 'n traan in 'n Billie Holiday song hang-
en: jy het die oe van 'n gewonde dier.
En oor ons voete wat deesdae onewe val,
skryf ek ook hier.

Wednesday, December 24


Tuesday, December 16

Friday, December 12

vir jou, soos die ander

die dag strek bleek - poot uit soos 'n basterhond-
en die wind se hart pomp- pomp soos my voete traag op die grond

die boemelaar voor Coscutters se gesig is gebreek, sag teruggevou
soos 'n lendelam brief, stukkend gelees deur die son

en my voete klap steeds pomp-pomp kloppend traag op die grond...

later glinster die stad se vals wimpers teen my ruit, soen my sommer oopmond

maar ek dink net aan jou vandag, onder die grond

Sunday, November 9

die Nonsensvers

daardie einste gedig wat op my hart druk, 'n opgewonde brakkie
met vrot asem, het nie reels of ritme, of selfs knetterende konsonante/
ronde vokale soos spoelklippe nie. nee, hy spartel sonder rym of refrein
na 'n spreekbeurt in vlak water- die silwer mikrofoon teen droe lippe
gepers. huiwerend agter mooi woorde, die flink vers. sonder tong of
kners, daardie einste woorde dobber doelloos iewers in hierdie vers

winterskreet

die wind val in vlae en november se dae word in gelid kort geknip
warm lamplig teen my pofwang pantoffels vir die nat donker gang
maar die kloue van die reen krap geniepsig teen 'n ratelende dak,
en hoog bo ons marsjeer swart storm wolke dreunend in oorlog-sang

Sunday, October 26

die winter klouter benig af tot in die spelonk van my borskas,
waar agter my hart tamboer soos 'n duif, en sluit yskoue
kloue om my hart die duif. nou loop ek rond, 'n hartkamer gesluit-
en daar agter jou hartklop, vir ewig gestuit

Monday, September 22

Vir Isobel 27 Junie 1918 - 22 September 2008

isobel beethoven se vyfde simfonie bewe teen die dak vir jou
chopin het ek laat asemskep (vir nou) en die pers viooltjies (geel
spikkel in die middel soos 'n oog) suig langsteel geknak water
uit 'n glasbak. ek sit in die gloed van beethoven en ek onthou jou
klein, klein hande isobel. jou balletvoete. die trotse pronk van jou neus

die wind waai mistroostig vir jou, isobel. en die dag glim gebleik en grou.

weet tog, isobel, dat my pen bloei vir jou

Saturday, September 13

nonsens vers, oftewel dagdroom van die gesneuwelde student

kognitiewe sielkunde of praat ons nou van die gestalt/e
teorie op bladsy 763? descartes en sy dualistiese standpunt op...
of die brein met sy genommerde lobbe wat frontaal (serebraal?) na
asem proes. geen sprake vannag van hoe Die Brein se kiewe suutjies

hyg tussen koffie 1 en 4, of van die Vis se flinkse groei onder 'n
trillende wit bladsy nie.. selfs die loswriemel (hoek tussen vet lippe)
word vermy. nee geen sprake van die listelose kom-en-gaan swem
van die dier (en ek heel ingesluk) onder die nugter lamplig nie

Wednesday, September 3

vir isobel 27 Junie 1918-

isobel jou huis sal my hart wees totdat ek ook beswyk
die lampe hier gloei - geel huiwerende vinke teen
die muur -en jou klein hande hou my vas
in die nag drup drup die swart reen en val die dood
se skaduwee ligvoet in die skaniere van jou bleek gelaat
isobel jou hande hou my vas terwyl jy my verlaat

Tuesday, September 2

die wind hyg soos ‘n onrustige ondier sluip hy
vandag geslape om hoe bome en lae struike en glip oor die draad
en gaan le aan die ander kant van die spoor teemend soos ‘n ou
vrou die note glip uit sy skor keel en daar gaan le ‘n ou beklemming
op my bors gelek deur ‘n gewonde hond se nat tong troos
wanneer hy afbeen die groot wilgerboom se bas afstroop

Weerspieeling

die jare het geval dooie swaels met skerp snawels uit die lug
en ek het gewag. Vir rooiwyn aande in Kerslig,
en vir die maan ‘n geel kool drywend soos ‘n skip
maar ek dobber refleksieloos, ‘n rimpellyk in ons stil badwater
my wit gesig dien, dein en kom terug
in die vuil spieel en my groot swart oe bespied
die vlaktes agter my rug.

Tuesday, July 1

Mol mymering

Dignet delf so 'n bietjie vir gedigte ondergrond, en sal weer kop uitsteek oor 'n maand of twee...

Saturday, May 24

camden town foto


argument

die jare vou haar ge-eelte vuis om my en jou en wurg
die stil lug hortend blou selfs die wind slaak vandag 'n
sug gedwee en saggies soos die bewende hartsnaar reen
blare uit die lug, 'n see

Wednesday, April 23

Vir Gerda (alhoewel ek nog soveel wou se...)

my dae ontvou klam babavuiste sonder jou die lente
breek hier 'n geel vrugbare eier maar herfs val in
skerwe by jou. die maan se blink as tol vir ons;
sy lang wit gesig sweef bloedloos oor jou bos-vingers
en met laag gety aan die ander kant
glimps ek jou voetspoor gestol op stilbaai se strand

Saturday, April 5

Skrywersblok

Die maagdelike blaai le gewillig uitgestrek, wagtend op
die ink se swart vlek,
die horlosie tik ritmies, ‘n oopgesperde hart, en buite kreun
die reen gesellig in gesprek.

Die skerm adem ’n woord of twee, wreek dan ‘n sin verlee
of spuug ’n frase sonder keer, en
die wyser marsjeer tree vir tree saam met orente letters,

moedig teen die wit see.

Wanneer die reen eindelik poot-uit gaan le, en die horlosie klop

sonder hart, is dit 'n gretige slagtand wat woorde blind nader hark en
verslind, en slegs die flikkerende wyser drywend laat om die digter te tart-



* "wyser"="cursor"

Monday, February 18

die stram stoel op die stoep omvou jou steeds in groet
en snags val jou eggo-voet in verlate strate, en ek roep
jou fier stap op voor oog die boog van jou denker kop pa
my asem het egalig uitgestrek my oe het die donker
talmend begin lek eers toe die klok drie uur slaan
het ek jou skraal silhoeet onder die maan sien strek

Friday, February 15

lot van die romantikus

Eers toe Tchaikovsky se reusagtige viool deur die huis se nou skaniere kreun in D Minor
En die venster-oe ratelend in hoekige rame beef soos knersende tande
En die dak lawaaierig loswriemel uit sy vier ritmiese arms en klap-klap-klappend die hemel infladder
dring iets pynlik soos ‘n naaldsteek in my rooi bors deur die valentynsdag lyk en gaan le tussen Austen, en Jonker se liefdesnes, saam met Plath en Hughes op ‘n enkelbed, soos die lot van die ewige romantikus

Friday, February 1

Nog n midnag gedagte

daardie herfslandskap van uitgehongerde gedane jare
steeds vasgenael in skraal silhoeet onder n skerp sekelson
Die skroei weer vannag genadeloos oor nuut verbrande skouerblaaie
sodat ek my ore wydsoog spits in n hotelkamer met lee laaie
en aandagtig luister na die oud-bekende komponis se bitter-bekende gebare

Tuesday, January 8

Goa gedagte

afoor steekhaar honde lek lostong aan Goa se wonde
die son dryf 'n rooi kool in die lug en
op die strand breek die bleek see sy vuis verwoed oor
'n rooi skarrelende massa gestol soos bloed

en ons, afrika dubbelsilhoeet vibrasies,
gespuug uit die indiese see; 'n halusinasie

Saturday, December 8

die uurglas kantel onverhoeds elke uur
tussen ons gespoor vir goed

Wednesday, December 5

Eerste liefde van Elizabeth Eybers (26 Feb 1915 - 01 Des 2007)

Ons liefde het gesterf met die oggendstond,
En ons het haar begrawe, bleek en stom;
teer lentegras en geurige voorjaarsgrond
bedek haar, sonder smuk van krans of blom.

Onthou jy haar?.... Sy was tingerig-fyn,
met vingers slank en lig, haar stem was sag,
en haar blou wonder-oë vreemd en rein.
Haar dood was vreedsaam, sonder rougeklag.

Ek mag nie om haar ween: haar stil vertrek
was beter as 'n kwynende bestaan-
maar, ag, ek wonder of jy ooit, soos ek,
'n oomblik by haar graf in mym'ring staan...

Eybers biografie

Saturday, November 17




Friday, November 9

Vlietende gedagte (nav Devil's Elbow vlaktes in Skotland)

die dag kom wanneer ek my gekneusde self tussen die wit vlaktes
uitgestrek soos god se hand sal lawe soos ons destyds jonk
en groen teen die gietende reen moes hawe

Friday, October 5

die hunkering

miskien moes ek destyds die eiland se sand aan my klam
voete laat talm het vir nog 'n half-maand 'n half-maan aand
ons asems gebreek op die nag gewreek het soos wat die nugter
dag deursypel totdat elke korrel van die hunkerende wens verdwyn.
die spons leeg getap, soos die plat see, sou ek dan rustig oor
jou koorsige voorkop kon vee
in plaas van die drup die drup van die alewige kraan in my hart
wat tap snags
tap

Friday, September 21

Freud se studeerkamer, in Londen


Wednesday, September 19

freud-se-huis observasies

in Freud se huis het ons, die gelowiges, die wentel
trap geklim en as toeriste ons oe gerus, oopgespalk
vir al om te sien, op die studeer
kamer skim-
was 'n reuse walvis stoeiend op die strand
en ook 'n sagte leerbank, steeds liggaamshitte
alkant, sku slapend onder oe.
die Hongerte het my die toeris (nat neus teen die glaskas)
gestrand, ewig wroegend met die id en die
ego op niemandsland

Friday, August 24

'n dag het gaan le soos die reen ook, sonder protes,
die blou TV flikker asemloos. die telefoon hang draadloos.
twaalf volle ure gesterf, gepers soos rooi druiwe, grinnik wydsbek
in die midnagkers.en die digter (woordmoordenaar) sit beskut
agter die skerm- flits en protesteer teen die stilte op die maan se rug

Thursday, August 16

die wete (Kokoschka painting)




die kille vuis van die dood klem en ont
klem die hart met vingers van lood wanneer
die sonderlinge herinnering van die gestorwene
teen die goue son opstoot die reuk van 'n ge-oesde reen
talmend in die keel vas steek 'n verlore voetstap mank val
en val (nou saam met die reen) en die voetganger, vergesel,
sy pas skielik versteen

Saturday, August 4

opmerking

die mense hier ingeleg is louter kaal poppe in 'n glaskas
die rooi mure 'n ritmiese hart wat klankdig en vas bewe
onder 'n gloeilamp
ons sit en ek tog alleen op 'n leerbank sonder kreun en
vannag buite my sigveld, die oorweldigende reen

Wednesday, July 11

Egon Schiele pic


Vlietende gedagte

die dae van die langbeen pampoendogter afhakskoene
'n knap streepbaadjie gaasdun kouse
-die dun stem en stil hande-
is verby en le opgestapel; 'n hoop kaalvoet lyke.
die houthuis, ook, wankel in onvaste spoor soos
die lang man mettertyd sy stem verloor.

Wednesday, June 20

NP van Wyk Louw:


NP van Wyk Louw is op 17 Junie 1970 oorlede. Hier volg twee van sy gedigte in herdenking: Nagreen

Die reën skuifel deur die straat,
verby my venster, mensverlaat …
Soos ’n trossie narsings wat verkwyn,
flikker die druppels teen my vensterruit
waar die geel straatlig daardeur skyn;
en voel die wind
met bleek vingers, soos ’n kind,
aan die swaar gordyn, wat plooi
in die lamplig, teer en droef papawerrooi.

Die wind in die baai het gaan lê

Die wind in die baai het gaan lê
Die wind in die baai het gaan lê en rondom
het dit oor Houtbaai, oor Kampsbaai
en by Seepunt wit koppe bly waai.
Maar, in die baai het die wind gaan lê:
alles wil toegesluit lyk - byna veilig -;
en 'n seun het in 'n blikskuitjie uit,
sakdoek vir seil
- sonder fletter -, plankies vir roeiers,
dit uit-gewaag
- want die wind oor die baai het gaan lê.
En ons bid na die berg, die wind, die planeet toe
om alles wat wind-berg-planeet se aard is
af te lê, en 'n oomblik ('n oomblik!)
net te broei, broei oor die vrees vir die vrees
en die ongewete roei van die seun
in hierdie kort stilte binne die baai.

Wednesday, May 30

nostalgiese mymerings (1st draft)

Die akkerbome in Tomstraat staan dig teen die winter
en in restaurante brand geel oe teen die donker.
Op die sypad sluimer ‘n verlore soen.
Malherbe straat en
die grate van gesprekke vlek die vloere
‘n bed vlugtige skadu teen die glas en daar
agter die reen.
Cummings en Shakespeare en Plath die woorde val

steeds deur die plafon en strik in die keel.
Die bar wieg kaal op twee dronk voete houttafels
coverbands vae bekende Munch gesigte en die
vrou wieg ook mee, ewig vasgepen in groete

Wednesday, May 23

egon schiele pic





Vlietende gedagte: sondag lunch in wetherspoons

klowe op die man se gesig langs ons
waterige oe sy bier geklem 'n vangs
geplooide hande die are stu blou op swaarde
geroesemoes van gebreekte stemme die sunday
times le bleek onder hande- swart en wit geblokte sak- glimlag
soos ek ook, sonder tande

Thursday, May 17

midnag observasie

die kubisagtige gesig gesny tot 'n honderd lyne
geplooi tot 'n skrale halfmaan mond aandagtige
oe gestrik in donker hoekies naakwit borste glim
styg en daal egalig in die skraal lig hoekige heup
bene beskut 'n dor baar moeder kindshande leweloos
in betragting die kop kantel peinsend warm asem fladder
wit teen die spieel 'n koue voet sny deur die badwater
'n sagte plas en die stille donker omhels sy bekende gas

Wednesday, March 28

Die volgende gedigte toegewei aan die reuse: NP van Wyk Louw (foto), Breyten Breytenbach, Elisabeth Eybers, en Ingrid Jonker


Grense; NP van Wyk Louw, uit 'Die groot verseboek, 1951'

http://af.wikipedia.org/wiki/N.P._van_Wyk_Louw

My naakte siel wil sonder skrome
in alle eenvoud tot jou gaan,
soos uit diepe slaap ons drome,
soos teen skemerlug die bome
opreik teen die bloue maan;

gaan met al sy donker wense,
en die heilige, nooit-gehoorde
dinge se, waarvoor die mense
huiwer, en wat om die grense
flikker van my duister woorde

Breyten Breytenbach

4.7 (1159- 1201) Breyten Breytenbach- uit die 'Ongedanste dans', geskryf vanaf 1975 - 1983 tydens sy politieke gevangeneskap

Ken jy my nou?
Het jy die spieel gesien
en ken ek jou?
NP v WL

om twaalfuur in die middag
wanneer dit donker is
staan die bourgeouis woongebied in ligte laaie
oopgepluk met verskroeide onderklere
en die mense is soos rokende rose

wanneer 'n kalkoen gehys word
aan die seinstok
op die helderste vlammetoringparapet
en ek die geklop kan hoor roep
kom ek terug na die stad

wanneer die son 'n harige sak is
en die maan bleek soos bloed
en die vyeboom deur 'n groot wind geruk
sy navye uitstrooi
soos sterre oor die aarde gestok

die skutmure broodkrummels
en tameletjies krummel en die bye
hul eie soetvlerke ingesluk
en die opgehangdes in lee sale
met pikdonker balle snoeker speel

en die grafgrawers sit in raadsale
want die melkweg is suur
die vlieeniers hul voete verloor
tuimel singende uit die hoogte
een vir een pluimswart elke uur

wanneer ek keer na die stad
speel die slagters op mandoliene
en 'n sog verorber die radio
die spreker en die golflengte
die eter spuug die woestyn uit

woorde krul orent en sterf
as lykwaens deur die boulevards sluip
en melaatses die galge met hul klokkies verfraai
kom ek terug na die stad

wannneer dit donker is
om twaalfuur in die vroee more
stilletjies sag
want ek het 'n afspraak
met bandiet B. Breytenbach

Elisabeth Eybers

Elisabeth Eybers 'Dagdroom' uit 'Gedigte1958-1973'

Ek het jou brief gelees terwyl ek eet,
die woordesoet het oor my tong gesprei.
Verby die aardse brood het ek gestaar
dwarsdeur die bome in die raam,
dwarsdeur die grys
wolkeplafon tot in die paradys
waar alles lig en helder is.
En net soos in die Bybel was ons naak en het
ek, aangekla, gou hom die skuld gegee
wat skemerig sis. . . toe ek opeens gewaar
dat ek my halfgerookte sigaret
aftik in my twee-derde koppie tee.

Ingrid Jonker

Ingrid Jonker se gedig uit 'Rook & Oker', 1965

Die skaduwee waarsku die straat
geslinger uit 'n hoë balkon
deur die skaars jakarandas van die lug
die skaduwee waarsku die son

deur die lied van die penniefluitjies
geval op die dreunende straat
my pop met 'n naam soos 'n liggaam
wat net soos 'n mens kon praat

My pop soos 'n mossie geskiet
korrel-kaal van die vensterbank
of was dit die wind uit die verte
of was dit my eie hand

My pop het geval toe die son
sy brons klok lui uit die lug
toe die wolke die mure wit kalk
val die skaduwee daarin terug

Die skaduwee waarsku die son
porselein met die ver lug bo
-as ek sou val uit 'n hoë balkon
as ek sou breek lyk ek ook só

Friday, March 23


Saturday, March 17


Vir Chantal 28 Oktober 1982 - 14 Maart 2007

die kamera (gaps) vir ‘n oomblik jou soepel gesig
en die son kaats vir oulaas vurige glans van jou hare
laatmiddag lig jy lag ‘n rooi mond geraam soos

-Maar jou dood het gekom
Vierentwintig bloedvore in die pad-

(ons glase klink nog in die lewe se blom)

Thursday, March 15


draft

sekerlik is daar iets sinvols om neer te pen wanneer die hart bloot
rit mies klop en die dag ontvou, skadeloos soos 'n kind se vuis
die dae langbeen strek,
die ure vier en twintig val
elke naweek hande-vier-voet nader kruip oor nog 'n sewedaelyk:
net gister skeur jy spartelend en pas gebore deur 'n kloppende vel
bebloed/hortend/hangend aan die enkeldraad (die son blosend op
'n eens bleek gelaat) en vandag neurie die nag soet akkoorde

Thursday, February 22


Tuesday, January 30

Munch painting

die maan stort swart bloed in emmers dit
val geluid loos 'n sagte groet en loop mank
langs geslote vensterrame af die vier
kantige kamer, gehul in sagte warm gloed,
se mure sug bebloed en bewend, geskend
skaars lewend en ons voetspore sirkel verwese
daarom, nat kinders, skadu's van wat was

Thursday, January 18

dronk blues

jy en ek ons
dans opie blues
met ellelange wit hande sparte
lende voete en ons heupe
wieg en wieg en
bonsende bonsen
de harte die sweet op jou
palm die musiek weer galm
'n pols 'n pols 'n pols
klop vir ons

Monday, January 8

die val van die pen 'n byl die kaap mossel
baai 'n brak rivier stil baai
vloed deur 'n benewelde gemoed en
stort 'n souttraan, 'n rooi alwyn, die ou jaar se bloed
vergete vergeel verbrand tot roet
-deur 'n bus, die daklig se sagte gloed

nagedagte

uit hierdie dorp het ek ontvlug en die einste brug wat bind verklug en brokkel tot 'n brose kug
* nav. ingrid jonker se gedig

Friday, November 17

van gogh pic

vrydag gedagte by die werk

die nag val 'n teater kombers
oor 'n grou pad, busse, my somber
vers. my ysvingers ontvou 'n blou
hart, kloppend kloppend en dors
met are vlegtend oor 'n wit pols
sit ek en dink teen die winter se bors

Wednesday, November 15

vir pa

'n glas op jou drie en vyftig jaar klink ek in
stilte teen die lig die klank ons hol brug.
my hande is leeg vanaand maar
op my vlug terug sal ek wasem teen die ruit
uit kyk vir jou
'n spatsel geel in die velde onder voet 'n
swart kraai, vasge- ets soos roet
die pad dorp toe sal kronkel onder my nuwe
voete. die lug sal ruik na reen. en iewers
sal jy le, versteen.

Sunday, November 12

mirrorink photo

gedagte

en nou eien ek die stilte op met oop arms
'n speld se val kan skaars gehoor word.
net my asem ha ling sag soos 'n kind
die mure het ore wat luister en
skadu's sluip voetloos oor wit hande
ek is gewigloos soos die geel lig en spruit gedagtes

Saturday, October 14

ek stroop jou my tweede vel my geraamte glim nou
sag in die skemerlig 'n stellasie sonder jou gesig
jou afhande skop in 'n ronde emmer onder die bed
en jou bloed kook ek op my stoof dit prut en prut dit
stotter soos 'n gebroke tong en borrel roggelend en
sterf soos 'n kug

Sunday, September 17

mirrorink photo

soveel goue dae op die blik terug
die maande vertaag in my geestesoog
die silhoeet swart teen die lig
uitgeets vir 'n moment ons bloed
gestol en ons verstrengel in
dieselfde skets

Friday, August 25

Hirst Exhibition

elke senuwee gespan soos 'n
snaar wag ek vir die bloed om
in my are te bedaar en nina
simone, haar stroopsoet stem, klim
saam met die aand en die
kriewel in my vel elke haar orent
seil wriemelend
deur die pen
en jou -stil - handgebaar

dagdroom

elke boom, in Hyde Park, ongeskroom
raam ek met ons skrywersoog
die stil gras en swanger wind 'n
struikelende voetpad soos in 'n droom

Sunday, August 6

Francis Bacon

ps

in lebanon pers platgestrykte geboue soos dooie vliee (vir eers skamel)
geklede mense soos sikspense en tanks donder in nou strate af teen die lig
van dag en daar val geluidloos
bomme
sommer
uit
die
lug

Sunday, July 9

 Posted by Picasa
jy haal deesdae ook bedags asem
hortend, vrottend na gisters, 'n swart more
die lot van 'n dooie christus ek skrop
my hande bloedloos skoon en hang my kop
in onskuld ek voel my pols tussen duim en voor
vinger en kom met 'n sug
'n hopie grond in potchefstroom ons bou 'n steen
met jou naam daarop ek plant 'n geel blom soos
die son, verduister deur Van Gogh se swart kraaie
en hul skemer tog. wat is die som
met die einde altyd op die horison?

Sunday, July 2

'n dronk vers

so ek sit toe alleen en sip my cider (dis somer) tom
waits en ek sip my cider. en die son bak neer soos
op geel dae. met sweterige hande op stowwerige
tuistoetse tik en tik ek dit is nie meer stil nie
'n stapel dagboeke vergaar stof in die blote daglig. tom
waits neurie in my oor. met 'poem for the day' of 'a poem for
every day' two aan my sy begin ek helder
heid kry. en jou skim staan en bak in die son 'n
wasem sonder asem. maar darm vandag met ons.

Thursday, June 29

die dag trek water soos bloed

Sunday, June 18

mirrorink photo

Posted by Picasa
jou kantoor daardie doodstil ruimte waar
net die stof vertrek 'n swart toga hang sprakeloos
aan 'n toe deur die mat 'n mummie staan deesdae
regop in die hoek lee laaie, hangtong en wagtend
in die wit son die horlosie se plat kop hou sy asem
en die straat dop die lendelam boekrak steier teen
'n wit muur onder anonieme boeke vanuit die vuil ruit
sien ek jou straat af stap kop-af peinsend ewig
verweer deur die genadelose son

Thursday, June 15

byna gesneuweld staan die dwerg pen-orent en
balanseer nog steeds die maan, al dan met stram gewrigte
(of in waan) en ons drink cider soos visse en knipoog skalks
vir mekaar en slaap arm-om-die-lyf en ons luister na vivaldi
se opera die stem wat rys tot teen die plafon en breek soos die
reen en ek klouter op jou skoot en sluit my oe teen gister se lem
skerp lig soos 'n kind met 'n gewonde hart gryp ek jou hande in die nag

Sunday, May 7

die aand stryk neer soos 'n swart swael, bloeiend om
die bek, klein pitogies tot op die laaste gerek. sewe maer
jare om 'n skerp snawel gewerp. die somer is snerpend
koud. die wind yl genoeg om ou wonde te lek.

Wednesday, April 26

Posted by Picasa
die behoefte om 'n gedagte soos 'n lyk neer te le ontstaan
bloot soos masturbasie- die hand soekend na groener
velde. platgestrykte papier sag vasgepen en bloeiend soos
'n maagd. die skrywer sug behaagd. en kom vrugloos.

Thursday, April 13

mirrorink photo

Posted by Picasa

Friday, April 7

sprokieskind

kom le warm teen my rug, die nag sugtend
soos 'n slapende kleuter
verstrengel jou klaviervingers in my gewrig
jou bors dein op
en af, 'n donker stroom oor sy graf
en jy neurie die dodemars met nat lippe
kom sing vir my, soos van ouds, 'n slaaplied
oor twee kinders in 'n woud, broodkrummels
die huis van hout
werp jou lang gesig teen my bors en gee
vir my jou koue voete, jou knersende tande,
die brug na jou lande

Tuesday, April 4

mirrorink foto

Monday, April 3

eerste lente

die skelm son lek jou wit vel
die dag sluk jou blou en skoppend, 'n metgesel
groen lower sluimer in strak struike,
Van Gogh Geel groei in warm buike
selfs die wind sug sag, 'n warm babateug
die lig is luid,
die winter hees.

Tuesday, March 28

jou oe is troebel groen poele
ek steek 'n vinger in twee gebreekte spoele
'n skag sonder lig-
jy dra die nag heel op jou rug.
die dag, 'n vlermuis, vlug voor sulke krom voete
jou gebeente le gestroop vir die son om te verslind
jy kug swart bloed in die nag en
drome soos roet.
ek vat jou skrale hande en jy val soos sand na
ander lande. my vlees en bloed.

Wednesday, March 22

voetnota 1

te koop by Oxfam: jou stram ledemate
'n swart kam sonder grate
'n bont trui vol gate
die vasberade tred van jou dronk stap
vleeslose vingers tot op die been getap
die Lasarus in jou are
en die son op jou graf

voetnota 2

in my drome, verlore man met die gebreekte rug,
hoor ek jou sug.
droe bloed in jou pen staan jy hand in die ken
hand in die hare bakhand
na soveel skraal jare peinsend jou lang gesig
vir ewig alleen in die skare

Monday, March 20

mirrorink pic

Posted by Picasa

Saturday, March 18

die fossiel

die dag gaap oopmond soos 'n sondag
ek sit sweterig in die internetcafe
en luister na die babbel van twee 'slappers'
die dreuning van die aircon
en die bloed in my slape wat stadig klop en
klop soos die man van een-en-negentig
met gebroosde hande en 'n voos vel
waardeur blou are soos garing steek
en sy kop wat ruk en ruk soos die strop
om sy nek
dementia.. die gelukkige gek

Tuesday, March 14

mirrorink foto

Posted by Picasa

Monday, March 13

pers bloed uit jou voos trui vir 'n drenkeling
'n paar laaste woorde om vir oulaas te skend
gebroke gedigte soos jou hees stem.
die son val geel deur 'n gebreekte ruit-
die hand van god of neil diamond.
strompel tog 'n laaste maal benig
in kerkstraat af, die laat lentereen teen jou vodde jas

Friday, March 10

oproep

jou stem soos naels teen 'n swartbord en
jy praat wol tussen die tande.
ek spuug vuur
die telefoon-'n hol lyn staties.
ek snip jou mond oopgesper
'n maag van lood met my ystersker

Tuesday, March 7

trefentrap-nota

Man in die nat pad: sy oe bebloede skrewe.
veraf-sirenes die enigste lewe. en die reen
spoel die straat skoon. en sy gebreek te lede
mate orent soos ons verbete.

Sunday, February 26

die vlek op die blad lek aan my vingers
soos bloed wat strek asemloos rus ek in
'n wit vertrek,
'n skadu wat die mure lek voordat die slaap
my oordompel sal ek nog die naaktheid bedek

Friday, February 17

die geel dag onverwags

jy het hierdie week getalm in die Thames onder Kew Bridge.
jou stem weergalm tussen Marks&Spencer mense soos 'n galg.
ek staan bedags by 'n rooi busstop jou voete op die sypad wat
strompel met afhak skoene, en klim op die 391 vir brood en melk
en toe kom jou geel dag onverwags en eensaam, die maer man
met bewende hande en jy stink na drank en nostalgie, na brood
en botter, swart kam in jou hempsak met bak hande en verbete
wagtend vir die Wederkoms en jouself om ook te kom.
sober sit ons nou op 'n vernielde bank en ek rook 'n sigaret op jou

Monday, January 30

Mirrorink sketse



Sunday, January 29

die diamante

stom gedigte soos diamante geslyp om in die hand te
pas, ryp kuikens wat skril vrot en stol op jellybene.
swart ink uit die kraak van die wit pen strompel 'n spoor
ongeskend, slegs bloed in die are soos 'n rooi mond potent

Friday, January 27

Die dartelende rooi kinders

Hyde Park en die voetpaadjie slinger ons
(dartelende rooi kinders)
onder 'n skamele son huiwerend teen die horison,
takbome soos Schiele- vingers, die swane vas
gemeer as Degas-vlekke- Skemer
skeur skrams deur die dag soos 'n wasige hand
beur ons teen die pas

Friday, January 20

jou skel kan snags gehoor word selfs oorpluise,
'n swak metgesel, verdoof geensins die klag
'n silhoeet teen elke muur
swart ink op 'n nuwe blad
die vier-by-vier plankvloere kraak onder ons
'n skugter maan skeel gemaak waak oor ons
wat beiteil tussen blad en steen half versteen
tussen boud en skeen
haal jy asem
so die beste van laasjaar is opgehang- my pers serp en
strop aan die name vang my met 'n slap riem in die
middel van die nag wanneer ons ondiere na asem snak
brak water goue visse in 'n bak London! wat op die uwe kak
die strompel val tussen nou en daardie maanlose dag
toe die son geskel het teen die hemel, blou en oopgevloed,
wit op ons gemoed,
maar waarmee sit ons oorgebelewe behalwe
Tyd en al die Sake wat dit verhewe

Sunday, January 8

die farao in sy graf van glas grinnik sonder oe, Ramses
die tweede op sy rug elke been uitgekerf in steen die
Monument van 'n koning toring onder die songod Ra
ons die Japanese met Kodac-kameras wat flash
tussen Reuse gaan ook eendag sterf

Saturday, November 19

die 1979 kandidaat

die politiek-man tas met stram vingers
na sy tande in 'n glas,
vind dit helaas
en stop sy mond soos 'n kind

Thursday, November 3

dis herfs jy sterf weereens naam en datum
in boombas gekerf-
kaal bome werf jou dun asem, die wind leeg sy longe
ek stap oor die blarekombers- aarde en roet,
tot by die voet van die tak-geraamte wat roep,
en luister na die fluister van blare soos rooi fluweel;
gekante geel son bedags!
ewig deinende bors van jou wit hemel...
jou groet Pa, die soen van herfs

Wednesday, November 2

die agt tot middernag sit selfs snags op my bors
benig en dors
altyd onvergenoegd opsoek na kleinighede
om op te voed
ek glim lag en se ag, verskoon die gedrag
wat om nou eintlik van die stroom-op slak,
strop om die bek, te verwag?
roetine, wat 'n roering! op die waterroete
die tyd, strompelend gestremd, tussen vier
mure gedemp soos die murmur op die punt
van my tong-
uiteindelik buite strek ek, die kat, en lek
die pels wat my omhels, en skuit geluidloos
op jou stoep

Tuesday, October 4

Mirrorink pic

die maer man

die maer man wortel aan my voete ons stap bedags saam met die
son, word later twee lang skadus en snags demp ek vir hom
in my droom hang die maan saamgepers
soos my ewige traan in die nikswees van die nanag
Ek pluk stikdonker sonneblomme begin herfs
Jou hare val soos die jare en stof versamel
onder jou vel, verlore woorde,
die holtes van jou oe..‘n sesvoet skag,
lee pen in jou hand, ‘n stamel –
drie uur staan ek op soos jy- gedemp deur die maer man gelei-
en skryf stotterend oor die dood, jou en my

Monday, October 3

soveel gesigte in stukke. ek misluk op krukke
teugend net- vandag aan die no-name-soup,
effe af smaak van social.. services tong in die kies
selfs ‘n oop venster.. maar die dood kannieontsnapnie
want die mat muf- jare se myotis
-multiple-sklerosis ek trap in die graf van
die lewendes met my latex gloves
kanker-gangerine-en altyd hierdie tumour in my kop wat
kraak onder die lig in die nag dit kon ek gewees het

Friday, September 16

ma

Ma jy is die aarde ek breek skoppend uit jou buik jy vang my met wingerd hande slyp my met jou tande ek word gewortel deur die kompos van jou kruik die spore om jou oe hardloop oor my palm ek soen jou rooimond waar die lewe altyd talm Ma ek wil jou hakke lawe wat breek vir ons onthalwe die bondel op jou rug soos ses kinders dra kelder vir my jou lag in ‘n koffie beker en die pante van jou rok want ek weet so min verseker en eien my op want ek sit nog in ‘n sinkbad duskant die son wagtend vir jou om ook te kom

Wednesday, September 7

jy strompel op onvaste voete in my vas en tint my drome met die rooi bloed
wat ons bind anoreksies probeer jy dan die swart skamele draad tussen ons
soos garing heg asof ek die lappop is van jongs met ‘n gebreekte nek
vallend voor jou byl ‘n basterbrak ewig lekkend aan ons wonde
sleep my stukkend oor ‘n erf jy sterf en werf die kind
soos ‘n enkele snik maar ek bly staan in die stof

Tuesday, August 30

Victoria & Albert Museum

Monday, August 29


Friday, August 26

Augustus,2005

refleksie van 'n idioot

die kind-man skater vir sy gesig in skerwe teen die spieel
sewe lee seats tussen hom en ons almal wat gaap soos
visse boloog teen die ruit die treinkamer word ‘n stage
flik ke rende ligte ons is mannekyne ‘n mensdom
van mimiek die kind tas uitbundig na
homself in die land van die blindes waar
leeus ongesiens onder sitplekke waak

Wednesday, August 24

Mirrorink pic